VF Plus Gemeenskappe

Jou toekoms word onteien. Neem terug jou toekoms! Raak nou betrokke!

VF Plus Gemeenskappe bied jou die geleentheid om op hoogte te bly van sake wat jou raak. Dit bied jou ook die geleentheid om betrokke te raak by jou gemeenskap en saam 'n beter toekoms te skep vir jou en jou kinders.

Eskom: Gauteng-regering moet verduidelik oor betaling van Emfuleni se agterstallige rekening

Eskom1

Die Gautengse regering sal dringend aan die belastingbetalers van Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) moet verduidelik wat die provinsiale regering gaan doen om Emfuleni se agterstallige skuld by Eskom te vereffen.

Eskom het verlede week bekend gemaak die LUR van finansies, Barbara Creecy, het nie gereageer op ‘n skrywe van Eskom se regspan op 4 Julie 2018 oor hoe die rekening vereffen gaan word nie. Dit nadat Creecy ‘n skrywe aan Eskom gestuur het op 13 Junie 2018 om 90 dae grasie by Eskom te reël.

Al kommunikasie wat die Gautengse regering aan Eskom gestuur het, was om te sê dat Gauteng nou Emfuleni se herstelplan gefinaliseer het. Geen verdere kommunikasie is aan Eskom gestuur nie.

Eskom se besluit om Emfuleni se krag op 4 Augustus 2018 af te skakel, is ‘n aanduiding van die Gautengse regering se laksheid om die saak reg te stel en sy onvermoë om voldoende in hierdie dringende saak met Eskom te kommunikeer.

Volgens berigte skuld Emfuleni Eskom nagenoeg R650 miljoen. Die Gautengse regering sal dringend hierdie rekening by Eskom moet vereffen om te sorg dat die plaaslike ekonomie van Vanderbijlpark, Vereeniging en omliggende gebiede nie skade ly nie. Indien nie, sal die Gautengse regering verantwoordelikheid moet aanvaar vir die verliese wat sake-ondernemings gaan ly en sal hy pa moet staan vir die skade.

Die VF Plus kan nie glo dat betalende belastingbetalers in Emfuleni so stief behandel word nie. Die Emfuleni-munisipaliteit is juis deur die Gautengse regering onder administrasie geplaas om die munisipaliteit se finansies weer in orde te kry en om te sorg dat agterstallige rekeninge by Eskom en Randwater behandel en betaal word.

Indien die Gautengse regering nie hierdie twee entiteite se skulde gaan vereffen nie en Eskom staak sy dienste aan Emfuleni op 4 Augustus 2018, sal die VF Plus genoodsaak wees om onmiddellik die nasionale minister van plaaslike regering se ingryping by Emfuleni aan te vra.

Intussen gaan die VF Plus versoek dat Emfuleni en die Gautengse regering moet verduidelik hoeveel belastingbetalers elke maand aan Emfuleni betaal en waarom Emfuleni nie die fondse aan Eskom en Randwater oorbetaal nie asook wat Emfuleni elke maand met hierdie geld doen.

Die Gautengse regering en die LUR van finansies sal dadelik eerstehands met Emfuleni se belastingbetalers moet kommunikeer en ‘n plan van aksie om Emfuleni se probleme op te los moet dadelik bekend gemaak word. Die VF Plus is van mening dat die administrasie-proses van die Gautengse regering reeds in die wiele gery is en die provinsiale regering weereens die provinsie se mense in tye van nood gruwelik gefaal het.

Dit is nou duidelik dat die administrasie-proses van die Gautengse regering niksseggend is en die regering nie in staat is om Emfuleni van ondergang te red en weer lewensvatbaar te maak nie. Dit is uiters teleurstellend.

3 responses

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *