VF Plus Gemeenskappe

Jou toekoms word onteien. Neem terug jou toekoms! Raak nou betrokke!

VF Plus Gemeenskappe bied jou die geleentheid om op hoogte te bly van sake wat jou raak. Dit bied jou ook die geleentheid om betrokke te raak by jou gemeenskap en saam 'n beter toekoms te skep vir jou en jou kinders.

Gautengse munisipaliteite besig om in duie te stort

EMFULENI_SERVICE_DELIVERY

Skokkende onthullings wat die Gautengse LUR vir plaaslike regering, mnr. Uhuru Moiloa, verlede Vrydag in die Gautengse wetgewer gemaak het, is ‘n sterk aanduiding dat Gauteng se munisipaliteite besig is om in duie te stort en dieselfde pad gaan loop as die Emfuleni-munisipaliteit wat onder provinsiale administrasie geplaas is.

Inwoners wat nie vir dienste betaal nie, skuld munisipaliteite in Gauteng R56.6 miljard en hiervan is R46 miljard reeds langer as negentig dae uitstaande.

Van die agterstallige R56.6 miljard skuld die sakesektor R7,7 miljard en huishoudings R46.4 miljard. Munisipaliteite begin sukkel met kontantvloei en die uiteinde is dat hulle nie in staat is om rekeninge van diensverskaffers soos Eskom en Randwater te betaal nie.

Die VF Plus is bekommerd oor hierdie tendens, en het die Gautengse regering reeds in 2015 gewaarsku dat maatreëls ingestel moet word om te sorg dat alle inwoners vir munisipale dienste betaal en dat daar nie bekostig kan word om dienste gratis te verskaf nie.

Die VF Plus het toe ook gewaarsku dat die klein groepie inwoners van Gauteng wat wel hul diensterekeninge, munisipale belasting en motorlisensies elke maand getrou betaal, al hoe kleiner raak en dat die Gautengse regering en munisipaliteite besig is om hierdie melkkoei droog te melk.

Die VF Plus het destyds ook gewaarsku dat Gauteng nie kan bekostig om te ontaard in ‘n welsynsprovinsie nie en dat daar ‘n tyd gaan aanbreek wanneer die betalende inwoners nie langer die las van die nie-betalers sal kan dra nie. Gauteng het nou daardie stadium bereik.

Die munisipaliteit van Emfuleni het reeds in daardie groef geval en is daarom onder administrasie geplaas. Die volgende munisipaliteite wat dieselfde pad gaan loop, is die sukkelende Merafong, Rand West en Mogale City.

Mogale City kon reeds die afgelope week nie sy uitstaande rekening by Randwater betaal nie en is reeds dertig dae agterstallig. Die rekening is reeds met R17,9 miljoen agterstallig en ‘n verdere R19.5 miljoen is nog uitstaande. Mogale City se totale uitstaande bedrag by Randwater beloop dus R37 miljoen.

Mogale City het aangebied om Randwater R7 miljoen te betaal teen Vrydag die 29ste Junie 2018 en ‘n verdere R30 miljoen in hierdie week. Merafong en Rand West munisipaliteite het boonop reeds deur hul eie toedoen ‘n gesamentlike bedrag van R100 miljoen verloor weens ongemagtigde beleggings wat by VBS Bank gemaak is.

Volgens VF Plus-raadslede in Mogale City het die munisipaliteit ‘n oortrekkingsgerief van meer as R100 miljoen aangegaan. Die VF Plus waarsku dat munisipaliteite nou groot skuld by finansiële instellings sal aangaan om diensverskaffers te betaal, maar dat die probleem net vererger word deur die hoë rentekoers en dat die skuld nie uitgewis word nie, maar dat daar nou skuld op skuld bestaan. Dit plaas nog groter druk op munisipaliteite om te oorleef.

Die VF Plus se mening is dat hierdie situasie daartoe kan lei dat sukkelende munisipaliteite soos Mogale City, Rand West en Merafong reeds voor die einde van 2018 ook onder provinsiale administrasie geplaas kan word.

One response

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *